|
Peet le Grange van Eastvaal Auto Middelburg het ʼn splinternuwe Kia Sedona aan Helpende Hand oorhandig om te verseker ons personeel is veilig op die pad terwyl ons kosblik vir kosblik en skooltassie vir skooltassie hoop skep vir ons kinders. Baie dankie aan Peet en sy wonderlike span by Eastvaal Auto Middelburg – julle borgskap sit spoed in die uitvoering van ons planne en projekte.
Van Helpende Hand se projekte waarvoor die Helpende Hand kar ook ingespan word (veral met die bekendstelling van projekte):
Nasionale Skooltassieprojek
’n Kind uit ‘n behoeftige agtergrond het genoeg struikelblokke om te oorkom, hy/sy moet nie nog verder benadeel word omdat sy/haar ouers nie eers ’n skooltassie of die basiese skryfbehoeftes kan bekostig nie.
Elke graad 1 het tog die basiese skrybehoeftes nodig om sy loopbaan te begin. Daarom het Helpende Hand besluit om toe te sien dat behoeftige graad 1’s regoor Suid-Afrika ‘n skooltassie ontvang.
Solidariteit Helpende Hand het in 2008 die eerste keer hierdie enorme projek aangepak
Na slegs drie jaar het 9 000 behoeftige Afrikaanssprekende graadeens reeds by die projek gebaat. Die behoefte aan basiese skryfbehoeftes en skoolgereedskap is egter vyf keer groter as die middele wat Helpende Hand tot nou toe beskikbaar kon stel.
Aanspreek van die behoefte
Helpende Hand se Skooltassieprojek spreek op die oog af ‘n eendimensionele behoefte aan skryfbehoeftes aan, maar ‘n skooltassie is soveel meer as gereedskap vir skool. Dis’n simbool van hoop.’n Graadeentjie skep moed as gevolg van daardie tassie in haar hand, want daai tassie is haar bewys van jou geloof in haar potensiaal,’n bewys dat jy saam met haar die nuwe uitdaging van groot skool betree.’n Skooltassie getuig van betrokkenheid, liefde en omgee, en dit laat ‘n kind moed skep om self elke ontwikkelingsoomblik met altwee hande aan te gryp.
Helpende Hand se Nasionale Kosblikkieprojek
-
Verskaf voedselkoepons aan minderbevoorregte kleuterskole -
Lei ma’s op as dagmoeders as deel van ‘n werkskeppingsprojek -
Versprei komberse en speelgoed by kleuterskole
Helpende Hand se kosblikkie projek
Soveel behoeftige kleuters sal weens fisieke, emosionele en geestelike verwaarlosing nie optimaal ontwikkel nie en gevoglik hulle formele onderrig reeds met ‘n agterstand begin.
In behoeftige areas kan baie ouers nie die fooie van kleuterskole bekostig nie en die skole is gevolglik onder groot druk om finansiële ondersteuning van eksterne bronne te bekom.
Helpende Hand se navorsing toon dat kleuterskole in behoeftige areas ‘n groot behoefte het aan remediërende dienste soos arbeidsterapie, spraakterapie en sielkundige hulp vir kleuters. Verder toon die navorsing ook dat die kos wat kleuters by kleuterskole ontvang, baie keer hulle enigste maaltyd vir die dag is.
Die grootste leemtes wat Helpende Hand in die holistiese ontwikkeling van behoeftige kleuters geïdentifiseer het en deur die Kosblikkieprojek wil aanspreek, is soos volg:
1. Die opleiding van versorgers en mammas: werkskepping.
Helpende hand is tans besig om 49 mammas in Danville op te lei as dagmoeders met geld wat verlede jaar deur de Kosblikkie projek gegenereer is.
Die behoorlike opleiding van versorgers kan baie van die ontwikkelingsprobleme van kleuters voorkomend aanspreek. Die opleidingsprogram dien ook as ‘n werkskeppingsprojek, aangesien die mammas en na afloop van die opleiding hulle eie dagsorgsentrum kan registreer. Die druk op behoeftige kleuterskole word gevolglik ook verminder.
Die opleidingsprogram is in Afrikaans, wat moedertaalonderrig versterk.
Die dagmoederprogram is daarop gemik om kleuters tussen twee en vyf jaar in groepies van ses te versorg. Hierdie model verseker goeie individuele en interpersoonlike kontak vir kleuters wat andersins geen ontwikkelingstimulasie deur die dag in ‘n plakkerskamp, skuiling of kommune sou ontvang nie.
2. Ondersteuning aan behoeftige kleuters en kleuterskole ten opsigte van handgemaakte opvoedkundige materiaal: werkskepping
Helpende Hand se takke sal behoeftige gemeenskappe reg oor Suid-Afrika inspan om opvoedkundige materiaal vir kleuterskole met die hand te maak. Die projek sal dus bydra tot werkskepping. Opvoedkundige materiaal soos klei, houtblokkies, legkaarte, vorm- en kleurherkenningsborde, tolletjies wat geryg word op veters, balle en boeke sal in ‘n krat verpak word en uitgedeel word aan die skole wat kwalifiseer vir die projek.
3. Ondersteuning aan behoeftige kleuters en kleuterskole ten opsigte van voeding: gemeenskapsbetrokkenheid
Hierdie ondersteuning behels opleiding oor wat ‘n gebalanseerde dieet vir ‘n kleuter is, asook voorstelle vir bekostigbare etes en gebalanseerde voedingspakkies waarby net kookwater bygegooi kan word.
Die projek steun sterk op gemeenskapsbetrokkenheid deurdat kerke, skole, besighede en verskillende organisasies kosblikkies pak en by kleuterskole uitdeel en nie-bederfbare produkte insamel waarmee kleuterskole in groot maat vir kleuters kan kos maak.
Dankie Eastvaal Auto Middelburg:

Lindie Strydom, skakelbeampte van Helpende Hand, ontvang die sleutel van die Kia Sedona by Peet le Grange van Eastvaal Auto Middelburg
|